Mooi porselein!

Ek het ‘n groot liefde vir mooi kleinbordjies en mooi bekers.

My pa het baie keer vir my ma porselein as geskenke gegee. Dan kon ek nie genoeg kyk en voel nie.

Boonop was dit my werk om die tafel te dek. Dus het ek baie met mooi porselein gewerk.

Dan het my ouers ook altwee pottebakkery as stokperdjie beoefen. Pa op die wiel. Ma met muurbehangsels, potstaanders en “coiling”.

Laasgenoemde is die kuns om lang stroke klei te rol in wurms. Dan las jy ‘n wurm met water en werk hom glad af. Jy sit hom op ‘n basis vas met water. Daarna herhaal jy die proses met die een coil (“spoel” sê die woordeboek) op die ander. Goeie alternatief as die wiel jou nie trek nie.

So is die liefde vir mooi breekgoed gevestig. In winkels loer ek altyd of daar nie ‘n mooi beker of kleinbordjie is nie. My versameling kom mooi aan.

Ek eet graag uit ‘n mooi kleinbordjie. Laat die happie net feestelik lyk! En ‘n feestelike beker maak my tee ‘n fees!

Interessant wat die impak van my ouers se voorbeeld in hierdie geval was. Die liefde vir mooi porselein is diep in my vasgelê.

Dit het een van die klein alledaagse vreugdes geword wat my lewe mooi maak. Boonop herinner my porselein my elke dag aan my ouers!

Op die foto is ‘n skilderytjie wat my ma vir my gekoop het toe ons by ‘n Kersmark was. Dit is geplak by ons opskepplek.

Net onder die skildery is ‘n sout- en peperstel van porselein, wat ek in Budapest gekoop het. Dit herinner my aan my gunsteling, mooiste, mooiste stad!

Dan sien jy ‘n paar van my kleinbordjies. Is dit nie vrolik nie?!

Ek ondersteun Villa Alegre wat deesdae hulle breekgoed by supermarkte bemark. Hulle kleure en ontwerpe trakteer my oë!

So kan ons ons gesinne beïnvloed om op die mooi in die lewe te fokus. Dit maak lewenslank ‘n indruk.

Let wel ek propageer nie materialisme nie, maar die waardering van klein mooi dingetjies. Ook in die natuur!

Published by sandreyerskryf.wordpress.com

Ek is 'n 63-jarige afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres,wat op 60 afgetree het. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 12 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

7 thoughts on “Mooi porselein!

      1. Inderdaad, my ma is gek oor Royal Albert teestelle en eetgerei. Ek het geen erg daaraan nie, dalk omdat dit so duur is. Maar ‘n wit bord trek my aandag soos ‘n magneet. Of een kleur. Ek het nie haar liefde geërf nie.

        Like

  1. San, ek het ń absolute swakheid waar dit sulke bakkies en bordjies aangaan. Nou die dag ontdek ek dat Westpak ook daarvan verkoop. Ek loer maandeliks eerste by hulle in om te kyk watter van my versameling ek kan aanvul.

    Liked by 1 person

  2. Jou kleinbordjies is vrolik,ja,San.Ek is mal oor klei én fyn porselein. Veràl mooi naampie-teestelle.Jy sal verras wees om te hoor wat ‘n belangrike rol porselein speel om die datums wat ou skepe gesink het te bepaal. As jy ooit Overberg toe kom moet ek jou ons Skeepswrakmuseum op Bredasdorp wys.

    Like

Comments are closed.

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: