Wie reg kan meet…

Kyk, ek kon met die oog skat. Eendag gelees dit is ‘n belangrike vaardigheid. Van toe af het ek gereeld geoefen. As vergaderings erg vervelig was, het ek alles om my bekyk en die mates geskat.

Maar dis nou nie iets wat jy ‘n jong huwelik mee toets nie. Jy sal vir jou vasloop in die diep uitdagings van die liefde en verdraagsaamheid.

Ons was seker vyf  jaar getroud. Het die huis bietjie aangebou. Woonkamer en hoofslaapkamer. Dit was ‘n senuweeverswakker op sy eie. Maar ons oorwin dit.

Toe kom die dekor wat met bietjie geld moet gebeur. Ons begin met afdrukke vir die hoofslaapkamer. Ek het ses prentjies gekoop. Hulle moes in groepe weerskante van die bed hang. Drie aan Liefie se kant en drie aan my kant. En Liefie moet hulle help hang. Jammer, geen boor nie. Hamer en sulke spykertjies met plastiek koppies.

Ek verduidelik die projek. Liefie luister geduldig. Ek sal die prente hou dan sê hy of dit reglyk. Dan hou hy en ek kyk. En dan kan hy laat waai. Op dieselfde manier word die ander prente om die eerste prent gehang.

Die eerste prent verg al baie van my geduld. Maar hy is opgehys. Tweede prent is nie vir Liefie ‘n probleem nie. Ek hou. Vir hom is dit perfek. Hy hou die prent. Ek draai my koppie so regs en bekyk die kombinasie, die afstand tussen die twee prente en die skeefheid! Ek skuif die prent sonder meer. Toe ek dit doen, stry Liefie. Hy moet gou vir my kyk. Hy skuif sowaar my prent! Ek is ontevrede. Sê dit. Geliefde hou wat hy het.

Waarvandaan meet hy? Hy  moet kyk na die spasie tussen die prente. Dis te min. Ek skat so drie sentimeter. Hy wil weet hoe kan jy ‘n vrou vertrou om te meet? Ekskuus? Ook wonder hy hoe kan ek meet as ek my koppie so na regs draai? Geen mens kan só behoorlik meet nie. Hou jou kop reg.  

En so ploeter ons al stryende voort. Ons kap die ligblou muur vol gate. Net Polyfilla kan ons nou red. Teen die vierde prent hang ek aan die prent wat ek moet hou sodat hy kan kyk. Hou dit regs as hy sê links. Lig dit aan die linkerkant as hy sê regterkant. Onder al die gestry het al my rigting my verlaat. Weet ook nie meer waar is bo en onder nie. Toe ek die vyfde  prent moet hou is hy onderstebo. My man is nie meer my geliefde nie. Hy is die baas. Hy is alleen reg. In ‘n kil, kwaai stem beveel hy my watter kant toe om te hang. Hy moet alles twee keer sê, want vir my is alle rigting nou soos vir ‘n outydse GPS.

Ek begin wraakgedagtes kry. My oog is op daai hamer. As ek net die hamer in die hande kan kry! ‘n Koekhou op sy knie word my enigste begeerte. Laat hy die prente hang soos hy wil. Ek het ‘n uur gelede al my skattings en metings verloor. Ek kan nog net hang en wraak sweer.‘n Kniebesering kan hom dalk ontspoor. Kruppel na die televisie laat strompel. Sy wond laat vasgryp en harde kreungeluide laat opklink. Dalk kan ek op my eie die sesde prent na my sin hang.

Toe die sesde prent hang sê ek nie vir hom dankie nie. Ek gaan maak vir my tee. Soet tee. Hoe de duiwel daai prente lyk is nie my saak nie. Opgetrekte linkerskouertjies, teen mekaar, deurmekaar. Ek gee nie meer om nie.

Toe begin alles weer die volgende dag. Die skewe prente pla my. Ek skuif hulle vroegdag reg. Die aand toe ek gaan slaap is hulle verander. Die volgende dag pla hulle my as ek koffie maak, as ek eiers bak as ek my geliefde opponent suur groet…

Toe ek die geleentheid kry, skuif ek my, nee, sý prente in ons kamer.

 Waar kom ek aan die skewe man? Hoe het hy dit so goed weggesteek? Wie het hom leer meet? ‘n Volle week korrigeer ons mekaar sonder ‘n woord. Ek begin twyfel in wat skeef is, voel self skeef. Skeef word ‘n fokuspunt. Wen word alles.

Een oggend begin my logika stadig, stadig terugkom. Ek stop die stil, skeefgetrekte argument. Laat die prente maar hang soos my geliefde opponent dit wil hê.

Op my aanlegtoets van ‘n paar jaar terug het die uislae gewys dat ek nie tegnies aangelê is nie. Dit was vir my ‘n tegniese uitklophou. Die familie is heel handig! Wen selfs pryse vir hulle handewerk. Maar nou berus ek. Ek meet skeef en dit het die laaste week alles skeef-getrek.

Toe ons na ‘n nuwe huis toe trek, gooi ek die prente weg. Ons hang ‘n groot afdruk in die hoofslaapkamer. Dit vat net tien minute…

Published by sandreyerskryf.wordpress.com

Ek is 'n 63-jarige afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres,wat op 60 afgetree het. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 12 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

5 thoughts on “Wie reg kan meet…

  1. Jitte, het ek nou gelag. Jy speel lekker met woorde, geliefde opponent, ek het ook een in die huis. Aan hamer het ek nog nie gedink nie, maar dat ek hom in sy peetjie sal stuur en alleen gaan bly, daaraan dink ek baie.

    Like

Comments are closed.

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: