As a child Elon Musk was bullied so severely he once had to be hospitalized because of a beating from other students | UPRISER
As a child Elon Musk was bullied so severely he once had to be hospitalized because of a beating from other students
Bietjie sosiale kommentaar
As ek na onderhoude met Elon Musk, die Suid-Afrikaner, kyk, kry ek so lekker, want Elon het sy boelies oorwin. Hy het in Amerika ‘n tuiste vir sy slim brein gevind en húlle geniet sy talente. Hy is seker een van die heel rykste mense op aarde. Ek wonder wat dink die boelies daarvan?
In Suid-Afrika (en beslis oral op ons planeet) is boelie ‘n vreesaanjaende probleem. Die boelies verwoes so ver as wat hulle gaan. Hulle slagoffers word lewenslank sielkundig geknou en ja – die probleem word erken, maar die boelies kry nie hulp nie. Is dit om dat hulle altyd as die wenner uit die situasie tree, dat ouers en onderwysers dink dit gaan baie goed met die wenner? Dit pla my.
Waar hy kom word ‘n boelie dikwels as ‘n leier gesien. Hy kan mos mense regsien. Op hulle plek sit. Maar, groot maar! Hy word iemand se baas, iemand se man, iemand se pa. En hy vertrap en verniel verder. Breek mense. Breek ons nasie. Ons moet hieroor skryf en kerm en kla.
Die wat moet ingryp doen dit verkeerd. Boelies het ‘n ongelooflike probleem. Is siek in die boonste verdieping. Benodig hulp.
En het jy geweet die dogters is die ergste? Gaan google dit. Ek wonder altyd hoe lyk so ‘n dogter se ma agter ‘n toe deur? Ek het een so ‘n dogter se ma ontmoet: enkelouer, muis – en sussie is die baas. En ma moet nou vir juffrou Dreyer aanvat. Sy het haar arms gevou en gewag dat haar ma haar gerepiteerde teks moet vertolk. Toe ek verduidelik ek het nou ‘n klas en ek gaan nie nou met hulle praat nie en eintlik nooit nie, het sussie net vir ma hoof toe gevat.
Daar is ook die ouers wat hulle kinders kan boelie dat jou hart wil breek. Wat jy dan besef is hoekom party kinders vir almal ore aansit.
By dogters byvoorbeeld het ‘n dogter uit so ‘n huis, ‘n vermoeë om te boelie met haar skerp tong, wat baie volwassenes nie het nie. Sy het ook gewoonlik ‘n paar prinsesse wat haar slaafs volg. Met skokkende persoonlike aanmerkings saai hulle gebreekte siele waar hulle gaan op die skoolgrond en in klasse.
Boelies teer op mense se uniekheid. Dit wat jou besonders maak. Dit wat God vir jou as geskenk gegee het. ‘n Boelie en haar/sy maters sal jou aanvat oor jou ras, jou ouers se adres, jou hare, jou gewig, jou pa se werk, jou kos vir pouse, dit wat jy kerk toe aantrek. Noem maar op.
Natuurlik vat hulle ander tieners aan voor almal in die klas. Natuurlik. Openbare vernedering is mos baie effektief. Tieners wil immers asseblief tog net onsigbaar wees. En hierdie kriminele weet dit.
Ek het dit my werk gemaak om hierdie kriminele vas te vat. Hulle moes voor die hele klas om verskoning vra as hulle iemand voor my probeer verneder het. Maar ek weet dit het nie gehelp nie. Want by die huise word daar geboelie.
Dink hoe gaan dit by die huis as pa en ma werk en sesuur by die huis kom. Verder weet ons almal hoe min respek daar tussen baie eggenotes is. Hoe daar geboelie word by werkplekke.
Is ‘n boelie ‘n leier? Nee. Hulle is kriminele wat altyd hulle sin moet kry. Altyd, altyd mag oor alles en almal wil hê. Altyd veg om die mag en die voordele daarvan te behou. Hulle moet van baie klein af hulp kry. Hulle is verslaaf aan mag en sien die medemens as ‘n pion om mag te kry en te behou.
Hierdie pione doen baie skade op. Maar baie van hulle staan op – soos Elon Musk en word wat hulle bedoel is om te wees! Dankie tog daarvoor!
Maar dit is vir dié wat gebreek word deur die boelie wat hierdie skrywe is. Sal my geskryf hieroor sake laat verbeter? Nee. Want baie bewonder heimlik die boelies van hierdie planeet.
Boelies word nooit vervolg of gevonnis nie. Dit is ook nie onder meeste van ons ‘n afgryslike daad teenoor die naaste nie. Hoe werk dit? Wat sê dit van ons as nasie?
Boelies
Sonder ingryp
kyk ‘n siek nasie
hoe die boelies dit doen:
soos hiënas op jag
kom hulle weer en weer
om telkens ‘n nuwe plan
teen die prooi in te span.
Die bevel aan hul “vriende”:
“Issoleer en verskeur!”
Dié vals bravade
dié gewaande mag
ontkiem in menige huis
is voorbeeld, is kultuur
wat ‘n siek nasie
bang verduur!
(San Dreyer)